Rugby hier in Florrie-land word in die lig van gesonde sportmansgees benader.

Rugby is die seuns se wintersport en ons begin reeds na die Cluster atletiekbyeenkoms met vaardigheid en fiksheidsoefening.

Ons onder 6 tot onder 8 Ysters neem aan die Goue Leeus se Welpie-rugby reeks deel. Hier val die klem hoofsaaklik op die genot van die spel en die kweek van positiewe sportmanskap teenoor die spel en mede-rugbyspelers.

Ons personeel rig die seuns af en die oefening is op Maandae, Dinsdae en Donderdae na skool. Ons neem aan verskeie Welpie toernooie deel wat op weeks middae en/of aande plaasvind asook Welpie Rugby dae op Saterdae. Die onder 9 tot onder 13 spanne neem aan die plaaslike Sentraal-Wes rugby liga deel wat onder die vaandel van die Goue Leeus Rugby Unie plaasvind. Ons onder 13 A span, alombekend as ons Eerste span; het sedert 2000 die Goue Leeus Super o13 liga al vier keer gewen en was sewe keer naaswenners.

Ons neem al ons Florrie rugbyspanne op toere gedurende die Maart/April vakansie om hul vaardighede te verskerp en spanbou verder te ontwikkel. Die eerste span neem jaarliks aan verskeie toernooie deel; Kimberly, Paarl, Cradock tot by die Vrystaat se vlaktes het ons al gaan toer. Tydens die geleenthede word ons gemeet aan die beste rugby spelende laerskole in die land en is die laaste paar seisoene in die Top 10.

Tydens ons oefening, wat vir al die ouderdomme Maandae, Dinsdae en Donderdae middae is, poog ons om soveel as moontlik seuns te betrek. Dit is nie vir ons vreemd om tot 200 seuns by ‘n oefening te hê nie.

Ons seuns word jaarliks in die Sentraal-Wes en Goue Leeus onder 12 en onder 13 spanne opgeneem vir die 15-man en 7’s kodes.

Ons afrigters doen diens tot op provinsiale vlak as keurders, afrigters en spanbestuurders.

Vir meer inligting kontak gerus Meneer Mias Schutte op

sport@laerskoolflorida.co.za